SA se boere word nie deur die strafregstelsel beskerm nie

Issued by Leona Kleynhans LPW – DA-lid van die Vrystaatse Wetgewer
28 Jun 2021 in Press Statements

Vind asseblief die aangehegte klankgrepe in Engels en Afrikaans, aangaande ‘n Parlementêre vraag en antwoord van die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste.

Dit is duidelik uit ‘n parlementêre antwoord vanaf die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste op ‘n vraag van mnr. James Selfe DA-LP dat ons boere weerloos deur ons strafregstelsel gelaat is.

Die Minister het aangedui dat een van die beskuldigdes in die Frankfort aanval op Mnr Gert Terblanche op Maandag 3 Mei 2021 tydens die moord op vroeë parool was.

Twee mans, Samuel en Meshack Tsotetsi, is in 2005 aan die grusame moord op die Smith gesin van Heilbron skuldig bevind en is 35 jaar tronkstraf toegedien. Hulle moes tot 2040 in aanhouding gebly het, maar is slegs 14 jaar later, in 2019, op parool vrygelaat.

Volgens die Minister se antwoord, was die paroolbeleid wat destyds in werking was dat ‘n persoon slegs een-derde van sy vonnis moes uitdien voordat hy vir parool oorweeg kon word. Die beleid is eers in Oktober 2004, dat een helfte van die vonnis uitgedien moet word, verander. Die moorde is in Junie 2003 gepleeg.

Die Minister noem ook in sy antwoord dat ander faktore wat oorweeg moet word, is positiewe gedrag tydens aanhouding, of die persoon gerehabiliteer is, dat hy geen risiko vir die gemeenskap inhou nie, en of die persoon ‘n ondersteuningstelsel na vrylating het.

Die parool voorwaardes, wat deur die aangehoudene aanvaar moet word, sluit in, aanhouding in sy huis, gemeenskapsdiens, dat hy werk soek, dat hy net in een landrosdistrik beweeg, dat hy by ‘n vaste adres bly, dat geen alkohol gebruik mag word nie, en dat geen verdere kriminele dade gepleeg word nie. Die persoon moet ook na vrylating gemonitor word.

Die Minister het ook bevestig dat Mnr Samuel Tsotetsi reeds op 12 Mei, in die Frankfort Landroshof op ‘n aanklag van roof met verswarende omstandighede verskyn het. Hy het nie borgtog ontvang nie.

Dit is duidelik dat in die geval van Mnr Tsotetsi daar weinig monitering plaasgevind het, en dat hy duidelik ook deurentyd ‘n bedreiging vir die gemeenskap was. Hierdie is ‘n duidelike mislukking van die strafregstelsel, en dra daartoe by dat gemeenskappe aan kriminele uitgelewer word.

Die Demokratiese Alliansie het ook met afgryse verneem dat nog ‘n plaasbestuurder, mnr. Henk Burgers, Saterdagaand in Vrede wreed vermoor is, en dat sy huur-huis uitgebrand is. Dit is ten spyte daarvan dat die Gemeenskaps Polisiërings Forum bewus was dat hy voorheen geteiken is.

Dit is onaanvaarbaar dat geweldadige kriminele op gemeenskappe losgelaat word om hulle brutale dade voort te sit en gemeenskappe te terroriseer.

Die Demokratiese Alliansie sal voortgaan om antwoorde namens ons boere vanaf die regering te eis. Ons boere word aan kriminaliteit uitgelewer, maar is ook slagoffers van ‘n gebrekkige strafregstelsel.