Vrystaatse Wetgewer verwerp EFF se populistiese erfenismosie

Issued by Dr Roy Jankielsohn – DA Leier van die Amptelike Opposisie in die Vrystaatse Wetgewer
23 Oct 2019 in Press Statements

Die Demokratiese Alliansie (DA) verwelkom die verwerping van die EFF-mosie vir die verwydering van verskeie items en simbole in die Vrystaatse Wetgewer, insluitende die standbeeld van Generaal De Wet.

Sien foto’s hier, hier, hier en hier.

Tydens die bespreking hieroor het die Vryheidsfront Plus (VF+) besluit om die mosie met wysigings te aanvaar, terwyl die DA en die ANC die mosie heeltemal verwerp het.

Dit is jammer dat die VF+ nie by die DA aangesluit het om die mosie in sy geheel te verwerp nie, maar eerder besluit het om die mosie in ‘n semantiese oefening te omskep.

Die DA glo erfenishulpbronne is waardevol, nie-hernubaar en onvervangbaar. Die Vrystaatse Wetgewer het ‘n kollektiewe verantwoordelikheid om as inklusiewe trustee van ons provinsiale erfenishulpbronne op te tree. Hierdie hulpbronne moet gebruik word om ‘n begrip en respek vir ons kulturele diversiteit te bevorder, en daarom het die DA die populistiese en verdelende mosie deur die EFF verwerp.

Die EFF verwar duidelik transformasie met vergelding deur Afrikaner-erfenis vir politieke doeleindes te teiken. Generaal Christiaan De Wet was ‘n Afrikaner wat teen die Britse imperialisme geveg het en selfs in die tronk was omdat hy deel was van ‘n opstand teen die Unieregering.

Die EFF moet meer navorsing doen voordat hy probeer om alle kulturele en historiese erfenisse wat aan Afrikaners in die Vrystaat gekoppel is, te verwoes.

Daar is genoeg ruimte by die Vierde Raadzaal om erfenis-uitstallings in te sluit wat voorheen uitgesluit is. Die DA is van mening dat ons erfenishulpbronne ‘n belangrike historiese en ekonomiese waarde het. Erfenishulpbronne bevorder belangrike begrip en respek onder mense en dra by tot ‘n proses van versoening.

Enige voorstelle om erfenishulpbronne te verwyder of te verander, moet die toepaslike wetlike voorskrifte volg. Die DA glo dat ons ons verlede moet erken, maar eienaarskap moet neem van ons toekoms op ‘n manier wat ons land se diversiteit insluit en verbeter.

Ons moet ook in ag neem dat ons baie sosiale uitdagings het wat dringend aandag nodig het en dat mense wat werkloos is en in armoede leef, verbeterde onderwys, verbeterde gesondheidsorg en werk benodig.

Die EFF moet eerder kyk na die waarde wat ons diverse erfenis kan speel om die lewens van ons mense deur erfenistoerisme te verbeter, eerder as om te konsentreer op goedkoop populistiese politieke speletjies.