Moord op jong Paul Roux boer skok

Issued by Dr Roy Jankielsohn LPW – Leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer
03 Oct 2020 in Press Statements

Vind aangeheg ‘n klangreep deur Dr Roy Jankielsohn LPW.

Die tragiese en brutale moord op Brendin Horner op ‘n plaas op Paul Roux het die gemeenskap diep geskok.

Die DA wil sy innige meegevoel teenoor Brendin se familie en vriende uitspreek. Dit is hartverskeurend dat die sinnelose geweld op plase en plotte ‘n jong man, wat sy lewe nog voor hom gehad het, geëis het.

Die geweld teen boere, plaaswerkers en ander plaasbewoners is ‘n prioriteit vir die DA. Die party het ‘n alternatiewe plattelandse veiligheidstrategie ontwikkel wat die kern is van alle interaksie met die regering oor die aangeleentheid.

Die DA in die Vrystaatse Wetgewer het reeds die volgende aksies geneem om plaasaanvalle in die provinsie aan te spreek:

  • Die aanstelling van ‘n spesialis-woordvoerder oor plaasaanvalle in die Wetgewerkoukus , me. Leona Kleynhans, wat plaasaanvalle in die Vrystaat monitor en daagliks terugvoer gee aan die DA se nasionale plaasaanval-moniteringsgroep onder leiding van DA LP Dianne Kohler Barnard;
  • Die DA doen gereeld oorsigbesoeke in die platteland, veral langs die Lesotho-grens, om aandag op die problem van misdaad op plase te vestig;
  • Die DA het ‘n privaat-lid-wetsontwerp, die Gemeenskap-polisiëringswetsontwerp, wat tans in die Wetgewer onder bespreking is. Hierdie wetsontwerp sal bydra tot beter oorsig oor polisiëring deur die Wetgewer in die provinsie en geleentheid bied vir plaaspatrollies om te registreer en staatshulpbronne te ontvang;
  • DA-lede is ook betrokke in plaaslike veiligheidsgroepe;
  • Die DA in die Wetgewer het ook litigasie geïnisieer om individue soos Ace Magashule en Julius Malema aanspreeklik te hou vir uitsprake wat die DA as haatspraak beskou en wat volgens die party bydra tot plaasaavalle.

Ons boere en hulle werknemers is nasionale bates wat ons land se voedselsekerheid bewerkstellig. Ons land kan nie bekostig om ons boere in hierdie lae-intensiteit oorlog, veral skaars jong boere, te verloor nie.